Vir Alle Navrae Kontak: 015 295 9062 navrae@pietersburglaerskool.co.za

Gedragskode

Gedragskode


Gedragskode deur die Beheerliggaam van Pietersburg Laerskool daargestel en deur die ouers van Pietersburg Laerskool goedgekeur en aanvaar.
Grense (dissipline) beteken vir elke mens: groot en klein: –
* Veiligheid / sekuriteit
* Geborgenheid
* Geluk en afwesigheid van konflik

Oortredings word in die volgende drie (3) kategorieë verdeel: (kode in hakies)

 

Vlak 1 oortredings  

Leerder daag laat op vir klas   (1 – 01)
Leerder verlaat die klas sonder toestemming.  (1 – 02)
Leerder oortree die klasreëls   (1 – 03)
Leerder se haarstyl nie volgens voorskrifte nie  (1 – 04)
Leerder se skooldrag nie volgens voorskrifte nie  (1 – 05)
Leerder bemors die terrein / klaskamer  (1 – 06)
Leerder skryf briefies / teken onwelvoeglike sketse  (1 – 07)
Leerder bring kaarte/speelgoed skooltoe  (1 – 08)

 

Vlak 2 oortredings

Leerder ontwrig die onderrig tydens lesperiode (2 – 01)
Leerder is oneerlik. (2 – 02)
Leerder bly in gebreke om tuiswerk te doen   (2 – 03)
Leerder verlaat die skoolterrein sonder toestemming (2 – 04)
Leerder rand mede-leerders verbaal aan  (2 – 05)
Leerder rand mede- leerders fisies aan  (2 – 06)
Leerder in besit van items wat mede-leerders kan beseer   (2 – 07)
Leerder beskadig eiendom of mede leerders se besittings (2 – 08)
Leerder betrokke by wangedrag tyden skool / sport / uitstappies   (2 – 09)
Leerder ignoreer eksamenreëls  (2 – 10)
Leerder skryf graffiti  (2 – 11)
Leerder vloek / laster  (2 – 12)
Leerder in besit van ‘n selfoon tydens skoolure/naskool  (2 – 13)

Vlak 3 oortredings

Leerder pleeg erge vandalisme   (3 – 01)
Leerder beseer mede-leerder deur aanranding   (3 – 02)
Leerder in besit van gevaarlike wapen  (3 – 03)
Leerder in besit van sigarette of betrokke daarby    (3 – 04)
Leerder in besit van drank of betrokke daarby  (3 – 05)
Leerder in besit van pornografie of betrokke daarby    (3 – 07)
Leerder betrokke by seksuele teistering  (3 – 08)
Leerder betrokke by diefstal  (3 – 09)
Leerder in besit van Dwelms of betrokke daarby   (3 – 10)
Leerder versuim 2X om aan te meld vir detensie   (3 – 11)
Leerder ondermyn die gesagsfigure/ strukture aan die skool  (3 – 12)
Leerder maak hom/haar meer as 4X skuldig aan vlak 2 oortredings  (3– 13)

Oortredings: Vlak 3

Gesien in die lig van die baie ernstige aard van ‘n vlak 3 oortreding, sal die volgende remediërende aksie geld :
* Leerder word formeel aangekla wat ‘n dissiplinêre verhoor tot gevolg sal hê
* ‘n Verklaring sal afgeneem word by die betrokke leerders sowel as getuies.
*Die betrokke leerder sal tydelik vir 5 skooldae geskors word ten einde die saak te ondersoek.
* Die ouers van die betrokke leerder sal skriftelik in kennis gestel word van die dag, datum, plek en tyd waartydens ‘n dissiplinêre verhoor gehou sal word.
* Die dissiplinêre komitee maak ‘n aanbeveling aan die Beheerliggaam vir verdere optrede.
* Indien besluit word op ‘n skorsing sal die Bestuursliggaam sodanige aanbeveling aan die Onderwyshoof maak.


Remediërende Optrede : Detensie

Indien ‘n Vlak 1 of Vlak 2 oortreding begaan word, word die volgende aksie geneem:
* Elke onderwyser ontvang ‘n boek met deurslagpapier wat in drievoud voltooi word.
* Die afskrifte bestaan uit twee papiere nl. ‘n geel afskrif en ‘n groen afskrif. Die oorspronklike vorm bly altyd in die boek en die afskrifte word uitgeskeur.
* Die leerder se naam word bo aan die vorm ingevul en die betrokke personeellid merk die oortreding in die toepaslike blokkie.
* Die personeellid en die leerling wat die oortreding begaan het onderteken die vorm.
* Die geel afskrif word uitgeskeur en aan die leerder oorhandig om vir sy ouers te oorhandig. Die groen afskrif word
uitgeskeur en aan die DPO/DPNW gestuur.
* Die DPO/DPNW ontvang al die groen afskrifte vir die betrokke dag en sleutel dit agter die betrokke oortreder se naam in op rekenaar op ‘n klaslys. Die groen afskrifte word geliasseer vir rekorddoeleindes.
* Na die derde oortreding wat agter die betrokke leerder se naam ingesleutel word ontvang die leerder en sy ouers vanaf die DPO/DPNW kennis dat die betrokke leerder op die eerskomende Vrydag moet aanmeld vir detensie van 13:15 tot 17:00
* Die leerder word dan ook met R10 beboet. Na afhandeling van die betrokke detensie begin die leerder met ‘n skoon rekord.
* Indien die leerder vir die vierde maal aangemeld word vir detensie, word die leerder se ouers in kennis gestel dat die leerder dissiplinêr verhoor gaan word en dat die leerder vir een week tydelik geskors gaan word, ten einde die nodige ondersoek te kan doen
* Indien ‘n leerder nie opdaag vir detensie nie of versuim om sy/haar R10 boete te betaal, word hy/sy met twee Vrydae detensie gestraf.
* Indien die leerder twee maal nie opdaag vir detensie nie, word die ouers in kennis gestel dat die leerder dissiplinêr verhoor gaan word en dat die leerder vir een week tydelik geskors gaan word, ten einde die nodige ondersoek te kan doen.
* Tydens detensie moet betrokke leerders uitskryfwerk doen nl. Akademiese feite en ‘n bepaalde positiewe gedragskode/ norm.
* Indien ‘n leerder ‘n selfoon of kaarte/speelgoed skool toe bring sal dit gekonfiskeer word en eers aan die einde van die kwartaal aan die betrokke leerder terugbesorg word.
* Enige ernstige oortredings ( Vlak 3 oortredings ) word direk na die DPO/DPNW verwys en die nodige dissiplinêre aksie sal met die hoof en dissiplinêre komitee bespreek word.

Die volgende byvoegings ten opsigte van die dissiplinêre maatreëls van Pietersburg Laerskool.
‘n Leerder wat hom/haar herhaaldelik skuldig maak aan vlak 1 en vlak 2 oortredings sal die volgende voorregte ontneem word:
1. Enige leerder wat vir die vierde maal aangemeld word vir detensie, sal die voorreg ontneem word om enige Opvoedkundige uitstappies of ekskursies by te woon. Dit sluit die volgende in: Graad 6 Toer , Graad 7 afskeid of enige ander toer of uitstappie wat deur die skool gereël word.

2. Geen Sokkies, Speletjiesdae, Tentedorp, Filmsessies of enige ander aktiwiteit, wat die skool as ontspanning ag of aanbied, mag bygewoon word nie. Dit sluit die dra van gewone klere tydens die laaste skooldag van die kwartaal in.

3. ‘n Leerder wat vir die vierde maal aangemeld word vir detensie sal ook nie in aanmerking kom vir enige Meriete  toekennings nie en sal die voorreg ontneem word om enige toekenning op die verhoog tydens ‘n Meriete of  Prysuitdelingsfunksie te ontvang. So ‘n leerling kan nie in aanmerking kom vir enige van die top toekennings wat tydens so aand gemaak word nie bv. Rugbyspeler van die jaar, ens.

4. ‘n Leerder wat vir die vierde maal aangemeld word vir detensie sal ook die voorreg ontneem word om in aanmerking te kom om ‘n Leier aan Pietersburg Laerskool te word. So ‘n leerlinge se naam sal nie op enige stemlys verskyn nie.


Vlak 3 Oortredings

1. Enige leerder wat ‘n vlak 3 oortreding begaan en voor die dissiplinêre komitee van die skool skuldig bevind word sal al die voorregte soos hierbo vermeld ook ontneem word.
Elke leerder begin aan die begin van die jaar met ‘n skoon rekord en geel briewe is nie oordraagbaar van een jaar na ‘n volgende jaar nie. Daar sal egter rekord gehou word van alle oortredings wat deur ‘n leerder gedurende sy/haar skoolloopbaan aan Pietersburg Laerskool begaan is.

KLEREBELEID

Januarie tot April en September tot November – Somersdrag
Mei tot Augustus – Wintersdrag


Skooldrag:

 

Somersdrag:Seuns

Kort khakie hemp en broek
Lang grys skoolkouse en swart skoene of kaalvoet.
In uitsonderlike gevalle:
( Slegs indien onderwyser/afrigter bepaal dat hele span dit dra )
Pietie gholfhempie en baggie broek of sweetpakbroek en tekkies

Somersdrag:Dogters

Skoolrokkie met kort wit kouse en swart skoene of kaalvoet.
In uitsonderlike gevalle:
( Slegs indien onderwyser/afrigter bepaal dat hele span dit dra )
Pietiegholfhemp en skoolsweetpakbroek of netbal-/hokkierompie met kouse en tekkies

 
 

Wintersdrag: Seuns

Skoolsweetpak met Pietiegholfhemp. Lang grys skoolkouse en tekkies.
Skooltrui of pullover opsioneel
OF
Khaki hemp en broek met lang grys skoolkouse en swart skoolskoene.
Skooltrui, pullover en sweetpaktop opsioneel

 

Wintersdrag: Dogters

Skoolsweetpak met Pietie gholfhemp,lang grys skoolkouse of wit skoolkouse met tekkies
Skooltrui of pullover opsioneel.
OF
Skoolrokkie met lang grys skoolkouse, skooltrui, pullover of sweetpaktop

 

Kleredrag tydens Beweging/Sportperiode

Tydens die dae wanneer die leerlinge Beweging of Sportperiode het, mag leerders ‘n Pietiegholfhempie en baggie broek aantrek in die plek van skooldrag. Indien ‘n leerling egter nie die korrekte drag het nie, trek hy/sy skooldrag aan en sal dan deur die betrokke onderwyser die geleentheid gegun word om te verklee voor die aktiwteit in aanvang neem. Let wel indien leerlinge nie korrek geklee by die skool opdaag nie sal sy/haar ouers geskakel word en die betrokke leerder sal huistoe gestuur word om die korrekte drag aan te gaan trek.

 

Rokke:

Roklengte – nie korter as 4 vingers bo die knie nie.
Slegs “navy hotpants” onder die rokke

Kouse:

Geen “secretsocks”
Wit omgevoude enkelsokkies
Wit/grys skoolkouse by skoolsweetpak

Naels:

Kort, skoon en netjies
Mag nie oor vingerpunte steek nie
Geen naelpolitoer nie

Skoene:

Slegs swart skoolskoene
Geen “sneakers”/platvorm skoene
Wit/navy tekkies by skoolsweetpak
Netheid

Juwele:

Slegs horlosies, seëlringe, oorbelle en allergiebandjies word toegelaat
Horlosies – geen armband of kralehorlosies nie (Leer-, plastiek-, goud- of silwerband horlosies)
Oorbelletjies: slegs ringetjies(10mm) of klein knoppies – goud of silwer
Slegs een oorbel per oor!
Geen ander rekkies om die arms nie.

 

Hare:

Dogters:

Netjies, skoon en gekam/geborsel
Geen kleur of sonstrepe – indien oortree het die leerling
5 dae tyd om die probleem reg te stel
Geen slierte, alles netjies weggebind en vasgesteek
Hare wat aan die onderpunt van die kraag raak is te lank – moet gesny word
Wanneer leerders skryf/werk mag die hare nie in die oë hang nie
Slegs navy, goud, silwer en bruin bykomstighede (geen “butterflies”)
LW! Leerders met kopluise word onmiddellik huis toe gestuur
Enige leerder wie se kleredrag en hare nie volgens die skool se voorskrifte is nie sal huistoe gestuur word.

Seuns:

Netjies, skoon en gekam.
Geen gel, waks of kleur.
Kuif wat in die oë hang moet gesny word.
Hare wat aan die ore/kraag raak moet gesny word.
Hare mag nie langer as 4 cm wees nie.
Hare wat regop staan is ontoelaatbaar.

 
 
 
 


SELFOONBELEID

* Geen leerling sal toegelaat word om ‘n selfoon skooltoe te bring nie.
* Geen leerling sal toegelaat word om ‘n selfoon naskool toe te bring nie.
Gedragskode Juniors
Motivering: Die kantoor is oop vanaf 07:00 – 15:00 en kan leerlinge in ‘n noodgeval hul ouers skakel.
Die naskool het ‘n selfoon ontvang van waaraf ‘n ouer in ‘n noodgeval geskakel word. (Sorg dat u kind maar altyd R1.00 by hul het).
Leerlinge wat op die Stadion oefen of aan ‘n wedstryd buite Pietersburg deelneem bv. Tzaneen of Potgietersrus en mag daardie spesifieke dag hul selfoon saambring, maar moet dit met hul naam daarop voor 07:10 by die kantoor inhandig vir veilige bewaring. Dié selfone sal dan weer aan hulle oorhandig word wanneer hul vertrek.

REMEDIëRENDE MAATREëLS

* Indien ‘n kind ‘n selfoon by hom/haar het, sal die selfoon afgeneem word en vir die res van die kwartaal in die skool se kluis toegesluit word.
Leerders mag dan eers aan die einde van die kwartaal hul selfoon terugkry.
* Die leerder sal ook verder gestraf word deur twee opeenvolgende Vrydae detensie te sit vanaf 13:15 – 17:00.